Pablo Software Solutions
Copyright © . All rights reserved.
This website was powered by Ewisoft Website Builder.
die Uitverkiesing :Website Builder
Troos of Vertwyfeling...? :Luister na die Woord :die Uitverkiesing geskied in Jesus Christus :Wie is 'Ons in Hom' ? :Uitverkies voor die grondlegging van die wêreld :Uitverkies om heilig en sonder gebrek te wees :Voorbeskik tot kinders van God :die Troos van die Uitverkiesing :die Verkiesing van Judas Iskariot :die Pynlike ervaring van Jesus :Het God vir Judas bestem tot verraaier? :Wat van Johannes 17:12 ? :En wat van Romeine 9 ? :Wat is die probleem waarop in Romeine 9 geantwoord word? :Waarom is Israel dan verwerp? :'n Beeld van die Uitverkiesing
die Uitverkiesing geskied in Jesus Christus

Die Uitverkiesing Geskied In Jesus Christus

Dit is Gods bedoeling om mense tot die ewige lewe te bring sodat hulle Sy ewige seëninge kan beêrwe. Maar dan doen Hy dit nooit buite die Here Jesus Christus om nie. Dit word in Gods Woord geopenbaar dat Hy mense wil bring tot hierdie uitnemende voorregte en seëninge deur middel van 'n Verlosser. En dit is alleen in Jesus Christus dat mense verkies word tot erfgename van die ewige lewe in die Koninkryk van God. Dit is alleen diegene wat aan Jesus Christus verbind is, en wat deel het aan Sy versoening van sondes wat "uitverkorenes" genoem word. Niemand kan buite die Here Jesus Christus deel kry aan die ewige seëninge van God in die hemele waarvan die Woord spreek nie. Daarom kan ons nooit van die uitverkiesing spreek los van die Here Jesus Christus nie. Net soos wat die Israeliete se verbondenheid met Abraham die grond en oorsaak was van al die seëninge wat hulle van die Here ontvang het Génesis 17:7-8 ), so is dit alleen ons verbondenheid met die Here Jesus Christus wat die grond en oorsaak is van die seëninge wat ons van God die Vader ontvang. In die geval van Israel word die beloftes van God aan hulle toegesê wat kinders van Abraham is omdat Hy Sy verbond met die volk maak deur Abraham. Met betrekking tot die saligheid en die ewige lewe bepaal God van ewigheid af dat alleen hulle wat aan Jesus Christus verbind word deur vergewing van sondes en 'n ware geloof hieraan deel kan hê. Ons moet met ander woorde "kinders van die Here Jesus Christus" wees soos wat Israel kinders van Abraham was, voordat ons die uitverkorenes van God genoem kan word. Ons word in Christus verkies tot die ewige lewe, soos wat die Jode in Abraham verkies was tot die volk van die Here.

Die uitverkiesing beteken dat Christus die grond en fondament van ons saligheid is en nie 'n willekeurige besluit van God wat in die ewigheid buite die Saligmaker geneem is nie. Die Bybel ken nie 'n God van so 'n dekreet wat nie die God in Jesus Christus is nie. Wat God van ewigheid af besluit het, is nie dat daar buite Christus 'n bepaalde groep mense bestem word vir die hemele, en 'n ander groep bestem word tot die verderf nie. Nee, wat God van ewigheid af besluit het, is nl. dat die uitverkiesing in Jesus sal wees Efésiërs. 1:4 ). Die Bybel ken alleen die God en Here wat in Jesus Christus Sy genade vir die mens aanbied en dus elkeen oproep tot bekering en lewe. Die uitverkiesing in die Here Jesus Christus beteken dat God ons Sy seëninge en ryke beloftes aanbied en toesê in die Heiland. Daarom: Wanneer die Here Jesus Self uitgaan om die Evangelie te verkondig, is Sy heel eerste boodskap aan die mensdom: "Bekeer julle, want die Koninkryk van die hemele het naby gekom" Matthéüs 4:17 ). Die uitverkiesing in die Here Jesus sluit dus juis die bekering in, want geen sondige mens kan aan Christus verbind word sonder bekering nie: Geen uitverkiesing tot die Koninkryk van God sonder daadwerklike bekering nie!

Nou kom die vraag meteens in ons binneste op: Maar hoe kan 'n mens wat dood is deur die sondes en misdade vir hom tot God bekeer? Hoe kan 'n mens wat geestelik dood is tot Christus kom? A, die feit dat die Koninkryk van God naby gekom het, maak die bekering moontlik, want die Evangelie wat God aan ons laat verkondig, is die krag van God tot saligheid vir elkeen wat glo. ( Romeine 1:16 ). En as die Evangelie van Christus u bereik, dan bereik die krag van God tot saligheid vir u en dan word dit vir u moontlik om te glo, en dan verwag die Here God ook 'n antwoord van u op sy uitnodiging tot genade in Christus. So kom die apostel Paulus ook en sê: "God het in Christus die wêreld met Homself versoen .... Ons tree dan op as gesante om Christus ontwil asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus ontwil: Laat julle met God versoen" ( 2 Korinthiërs 5:19-20 ).

Daar gaan 'n oproep van God uit in Jesus Christus want deur Hom is God verkiesend aanwesig. Van ewigheid af is besluit en bepaal dat die uitverkiesing in Jesus Christus sal plaasvind. God het m.a.w. wel mense verkies voor daar mense was, maar Hy het bepaal dat hierdie mense in Christus verkies sal word, en daarom raak die uitverkiesing mense wat nou lewe. Nou terwyl die Evangelie uitgaan, is God verkiesend aanwesig. Die ewige besluit word dus in die tyd waarin u lewe voltrek.

Alleen in die lewe, woorde, dade en verkondiging van die Here Jesus Christus kom die Ewige God verkiesend tot u en trek Hy u om gehoor te gee aan die uitnodiging: "Kom na My toe . . ." Matthéüs 11:28 ). En alleen wanneer ons in Hom glo, ontdek ons dat ons uitverkies is, en dat die genade en die versoening van God in ons 'n werklikheid geword het! Toe die sipier van Filippi in sy nood vir Paulus en Silas vra: "Menere, wat moet ek doen om gered te word?" ( Handelinge 16:30-31 ), sê hulle nie vir hom: "Man, maar ons moet eers vasstel of jy uitverkies is nie." Nee, hulle sê onmiddellik vir hom: "Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word". Hierin sien ons duidelik dat die ewige besluit van die verkiesing in Christus, hier en nou voltrek word waar mense tot geloof in Hom kom.

Ongelukkig maak baie mense die fout om buite die geloof in die Here Jesus Christus kennis te probeer verkry omtrent hulle uitverkiesing. Mense wil eers die uitverkiesing verstaan en vasstel of hulle rede het om te dink dat hulle uitverkies kan wees en dan wil hulle glo. Dit is 'n dwaling en 'n on-Skriftuurlike orde van sake! Ons vind en ontdek alleen dat ons uitverkies is wanneer ons glo in die Here Jesus Christus. God laat net een bevel tot die verlore mensheid uitgaan; en dit is: "Bekeer jou ..." Matthéüs 4:17 ). En eers nadat ons gehoorsaam geword het aan die Evangelie verneem ons: "Ek gee hulle die ewige lewe ..." ( Johannes 10:28 ) en ontdek ons: "Hy het ons in Hom uitverkies" ( Efésiërs 1:4 )

    

 

Laaste keer geredigeer: 2008 / Geplaas: 31 Maart 2017